Vroëer in Junie het Bouwer Bosch en Lucinda Neethling (Die Melktert Kommissie) hulle treffende saamwerk EP/album, “Waar Die See Die Kus Omhels”, bekendgestel. Dit het gevolg met ‘n landswye toer en ek en my man was bevoorreg om namens NasieInspirasie hulle optrede die 29ste Junie by die pragtige wynplaas, Jakkalsvlei, net buite Mosselbaai, by te woon. 


Met aankoms het Bouwer ons vriendelik by die deur gegroet en vertel hoe organies en natuurlik hierdie inspirerende saamwerk projek onstaan het, net nadat hy en Lucinda die nuwe Straatligkinders liedjie, Herinner ft. Lucinda Neethling, se musiekvideo geskiet het.

Ek stap in en wonder op ‘n stadium of ons kreatiewes soms te veel karring met inspirasie se golwe? Ons maak soms ons eie, onnodige golwe, in plaas daarvan om gereed (met die klem op gereed) te lê en wag en dit dan net volluit te branderplankry as dit verbykom? Wie weet? Al wat ek weet is dat wanneer ek die musiek ‘Stroom’ (Stream) soos Bouwer en Lucinda laggend daarna verwys het, en ek dit van die verhoog tot doer agter by Jakkalsvlei se kuier-stoep hoor weergalm, weet ek hulle was beslis gereed vir die inspirasie golwe wat getref het… Die musiek is rou, eerlik, oorstromend met tye, diep tog veerlig. 

Bouwer het almal gereeld aan die lag met sy snaakse op-en-aanmerkings en hy skop die geleentheid af met die bekende liedjie wat hy en Roan Ash saam geskryf het, “Sy Klink Soos Lente”. Die gehoor sing lekker saam. Daarna begin Bouwer en Lucinda met hulle eerste liedjie, ‘As Ek’. Lucinda se stem het ‘n verrassende suiwerheid wat mens in vervoering neem. Die twee se stemme vul mekaar so goed aan soos wat hulle neem en gee en voortgaan om hulle harte met die Jakkalsvlei gehoor te deel. 


Na so paar liedjies sit ek terug en kyk rondom my. Mense eet, drink wyn en kuier lekker. Klein kindertjies hardloop deur die restaurant asook die bekende Jakkalsvlei hond, Bono. ‘n Gesuis en gedruis van gaste se gesels en lag terwyl die musiek speel… ek wonder of hulle regtig hoor wat hier gebeur en hoe spesiaal dit is? Val dit dalk op dowe ore? Ek wonder of daar van hulle is wat dalk op hierdie mooi uitmis terwyl hulle hier is? Ek hoop nie so nie, maar ek weet ook ek is redelik ernstig van aard en effens obsessief as dit by musiek kom… Wanneer ek ‘n goeie liedjie in ‘n winkelsentrum hoor speel terwyl ek inkopies doen, dan staan ek stil of loop lang ente in die gange. Ek luister die liedjie, of die beste deel daarvan, eers klaar voor ek die winkel verlaat. Ek weet, dis dalk effens crazy, maar kan dit nie altyd help nie!

Die gehoor bars dan uit in ‘n groot applous en ek besef daar is beslis aandagtig geluister. ‘n Hele paar goue-getroues wat hierdie duo ondersteun met hart en siel. Ek voel so bly en trots op ons alternatiewe Afrikaanse musiek wat so groei en vertak, iets met ‘n bietjie meer diepte as die gewone musiek wat elke dag op die radio speel. Veral as ek na die lirieke luister, dan weet ek daar is nog soveel meer beskikbaar vir ons kreatiewes om te ontdek en te skep. 

Bouwer en Lucinda deel ook beurt vir beurt die platform; Bouwer met sy liedjies en Lucinda met gewilde ‘Melktert Kommissie’ liedjies. Bouwer was nog altyd lief daarvoor om die weerlose, stukkende kant van die lewe te kommunikeer deur sy musiek. Amper soos om na ‘n moderne Psalm te luister. Die liedjie, GOLIAT, is vir my ‘n hoogtepunt en die atmosfeer, wanneer hy dit vertolk, tasbaar. Ek kan nie sê dat daar iets spesifieks aan hierdie liedjie is nie, miskien was dit net een van daardie: Jy-moes-daar-gewees-het-om-dit-te-verstaan oomblikke. Dit het net ‘n treffende gewig gehad wat my baie geraak het. Die lied, SMEEK is vir my ook besonders, eintlik maar ‘n gebed… OOGKONTAK en PLEIT bly maar net  gunstelinge (alles snitte vanaf hulle nuwe album). 

Lucinda het die hele Jakkalsvlei in samesang toe sy “Proudly South African” sing met Bouwer ondersteunend op die Tamboeryn. Na ‘n klein blapsie of twee lag ons almal lekker saam en die musiek gaan voort (Because Life happens). Die gehoor is min gepla, klap al hoe harder hande, die atmosfeer so lekker en so lig. 


Dankie Lucinda en Bouwer dat julle ons met julle musiek kom bederf het. Dankie aan Jakkalsvlei vir lieflike wyn-proe en bevonkte pizza en ook aan ons fantastiese kelnerin, Wynonia wat haar pen vir my geleen het toe sy sien myne wil nie meer skryf nie. As jy jou seer met ‘n kus wil omhels, doen jouself ‘n guns; gaan kyk die vertoning, laai hierdie unieke album af of “stroom” dit dan net na hartelus. 

Tot die golwe (en ons) gereed is. 

Groete,
iskra 

NASIEINSPIRASIE
sleepvoet dromer #vatvlam
FACEBOOK
INSTAGRAM
TWITTER

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *